15 En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.

16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra.

17 En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?

18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.

19 En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.

20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees?

21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.